'n Mens kom soms op 'n versadigingspunt waar mens net weet dat genoeg is nou genoeg. Na 'n 18 ure treinrit waar jy weet jy het die verkeerde besluit geneem om nie 'n bunkerbed te boek vir die nag nie en waar die trein 90 minute agter die skedule is, is die regmerkie agter hierdie item nou in BOLD.
Volgens die treinkaart is die stasie waar ek moet afklim maar redelik klein. Mens sien dit swaarlik raak op die treinkaart. Wat as hulle vergeet om te stop? Maar gelukkig kom die aankondiging toe mooi hard en duidelik deur: "In 10 minutes time the train will stop in Devils Lake." Oorkant my sit 'n vrou met haar twee rooikop seuntjies. Die oudste een lyk of hy ses jaar oud kan wees en die fris babaknaap is agt maande oud le op sy ma se skoot en glimlag vir my terwyl hy aan sy bottel drink. My hart raak vol. Hier is ek oppad na my seun wat 23 jaar gelede ook so op my skoot kon le. Jy's vas Mamma, dink ek. Jy sal nog sien, mens sal duisende kilometers agter hulle aanry net om 'n paar dae by hulle te kan wees. En was die weersiens nie soet nie! Dit was 'n ingelegte moment wat jy so nou en dan uit die bottel sal wil haal om dit net weer en weer te wil geniet. Mag die tyd vir hierdie volgende 5 dae gaan stilstaan!
Wayne bly in 'n klein gemeenskappie. Hy deel 'n huisie met 'n kollega. Dis 'n opregte Amerikaanse huisie met 'n Amerikaanse en Suid-Afrikaanse vlag op die dak.
Oja, ook hier in hul buurt is daar geen heinings om die huise nie!
'n rukkie later ontmoet ek nog 'n Suid-Afrikaanse boertjie, Jannes. Hy en Wayne staan aan die hoof van 'n Suid-Afrikaanse dag wat hulle organiseer. Daar moet 2 skape op die spit kom en ons moet dit gaan haal. Jannes het vir hom 'n Chevvy bakkie gekoop. AL die bakkies (of pick-ups soos die Amerikaners dit noem) lyk of hulle op steroids is. Wayne se werkgewer het vir hulle 'n ou Oldsmobile gegee om mee rond te toer soos hulle wil.
En so spandeer ek toe my eerste dag in North Dakota op hul plaaspaaie. By die huis gekom later, het ek en Wayne baie moeg gaan slaap en na 12 ure eers weer opgestaan. Uiteindelik was die reismoegheid afgeslaap en het ek kans gesien vir die kuierprogram wat Wayne vir ons uitgewerk het.
No comments:
Post a Comment