Amerika - dag 2
Ek moet se, die kos op die trein is heerlik. Ontbyt was groot en baie smaakvol. Ek het weer langs Beige-fluweellint Tiffany te lande gekom. Ons geselsies was maar onsamehangend, ons kon nie regtig so lekker click soos die geval was met Lisa die vorige dag nie. Dus het ek maar so gou moontlik weer by my kompartement uitgekom en die pragtige landskap gaan geniet. Dis somer in Amerika, die landskap is pragtig groen. Alles lyk so skoon so oop en ek vergaap my steeds aan die huise sonder heinings, die kleiner nedersettings waar dit lyk asof die bure geen erg het om so oop en bloot te wees nie.
Uiteindelik kom ons toe in Chicago aan. Ek het my bagasie in 'n locker op die stasie gestoor en toe die stad ingevaar, opsoek na die Willis Tower. Wat 'n ondervinding!! 102 vloere hoog, maak dit die hoogste gebou in Amerika. Daar is honderde besoekers en dit maak dit vir my so maklik, want mens volg net die crowd en hoop die voorste ou weet waarheen hy gaan! Natuurlik wil ek foto's he, al kos dit my wat! So neem ek toe die brawe stap om in die glasboks te staan vir 'n foto. Die boks is uitgebou met 'n glasvloer sodat jy al daardie duisende meters ondertoe deur 'n glasvoer kan aanskou. O jinne, dit was vreeslik, maar 'n foto wil ek he! Natuurlik my profile picture op Facebook.
Na die Willis Tower vaar ek die strate van Chicago in. Dis 'n pragtige stad met die heel mooiste geboue en die straat kafeetjies het almal sulke mooi blombokse. Die middelmanne in die straat is kleurvol met die mooi blomme geplant. Die geboue se tuine is pragtig versier met die blomme. Ek het eers gedink dis kunsblomme en het daaraan gaan vat, maar dis regtige blomme.
So gestap land ek toe op die Golden Coast art exhibition. Dit was 'n goue belewenis. Die stalletjies se produkte was letterlik uit 'n ander wereld, so iets het ek nog nooit in Suid-Afrika beleef nie.
Ek moes met moeite myself kort-kort herinner dat ek net 3 ure het in hierdie pragtige stad, maar ek het dadelik 'n 7 dag verblyf in Chicago op my bucket list gesit. Hierdie stad het my hart gesteel.
Oppad terug loop ek twee African Americans raak wat ook hul weg terugsoek na die stasie. Sulke vriendelike mense wat land en sand met mens gesels al die pad terug. Hulle is van California en het besluit om hul summer holiday in Chicago deur te bring….wyse besluit.
Op die pragtige stasiegebou aangekom, kry ek die ingang na die trein waar ek moet wees en wag… om darem 'n uur later op te klim.
Bitter spyt ek het nie ook 'n 2 dag verblyf in Chicago geboek soos wat ek met New York gedoen het nie. Maar my nuwe vooruitsig om na Wayne toe te gaan, maak dat die spyt nie te lank aanhou nie. EN so begin die laaste skof van my treinry-in-Amerika avontuur. Hierdie keer het ek nie 'n sitplek maatjie gekry nie, maar dis nie 'n probleem nie, want dan kan ek die pragtige natuurskoon alles mooi indrink sonder onderbreking.
Toe ek aandete gaan eet het, land ek saam met 'n Koreaanse vrou en haar bejaarde ouers aan tafel. Hulle hoor aan my snaakse engelse aksent dat ek van 'n vreemde afkoms is en is vewonderd toe ek hulle vertel dat ek van South-Africa is. Almal in Amerika weet tans van Suid-Afrika, want almal weet van Nelson Mandela se siekbed en almal weet dat hul president tans Suid-Afrika besoek.
God seen my toe met die mooiste mooiste sonsondergang. Ek het omtrent 10 fotos geneem daarvan maar nie een wou die prentjie so mooi vasle soos my oog nie!
Ek het nie hierdie keer 'n roomette bestel wat 'n bed het nie, en die sitplekke van die trein is nie regtig so gemaklik vir slaap nie, dus het ek 'n slegte nag agter die rug gehad. Maar ek het vreeslike wonderlike kiekies in my gedagtes gehad om na te kyk. Chicago…. ek is verlief!!
No comments:
Post a Comment